|
Bereik die Wêreld met die Evangelie deur die Internet
September/Oktober 2021 Nuusbrief
|
Wees gegroet in die aloorwinnende Naam van Jesus Christus
|
Mat 18:11-13: "Want die Seun van die mens het gekom om te red wat verlore is. Wat dink julle? As iemand honderd skape het en een van hulle verdwaal, sal hy nie die nege en negentig laat staan en op die berge die verdwaalde een gaan soek nie? En as hy hom kry, voorwaar Ek sê vir julle dat hy blyer is oor hom as oor die nege en negentig wat nie verdwaal het
nie."
|
“What are you going to do to reach one?”
Nadat Facebook Projek KuberWêreld se advertensierekening gesluit het en ek weer een middag met die Here worstel in gebed oor die pad vorentoe, kom
sit ek voor my rekenaar en my oog vang ‘n video op YouTube. Die titel was, “Every Believer Who Is Ready To Win Souls Must Remember This”. Die spreker verwys toe na die gelykenis van Jesus Christus oor die verlore skaap in Mat 18:10-14 en beskryf hoe belangrik dit vir Jesus is dat een siel gered word. “What are you going to do to reach one?” Onmiddellik weet ek dat die Here besig is om met my te praat.
Nou-ja, ons ken almal hierdie gelykenis en ons ken almal die boodskap, maar op hierdie stadium gebruik die Here hierdie gelykenis om vir my die pad
vorentoe aan te dui. Ek hoor die Heilige Gees in my gees bevestig dat die tyd vir massas bereik soos in die verlede verby is, en dat ek nou moet fokus op die enkele skape. Ek verstaan duidelik dat die Here wil hê dat ek moet vergeet van die statistieke en fokus op die bereiking van die enkeles wat ek wel kan bereik op ons Facebookblaaie.
Projek KuberWêreld se doelwit in die verlede was om die Evangelie so wyd as moontlik uit te dra met die doel om soveel as moontlik mense te bereik
waar die Bybel en die Evangelie nie vryelik beskikbaar is nie. In die verlede kon ons honderde duisende bereik deur ons advertensieveldtogte, maar nou kan ons slegs ‘n paar honderd bereik deur plasings op ons Facebook uitreikblaaie.
Ek sien egter duidelik dat die verlore skaap waarna die Here Jesus in die gelykenis verwys, op hierdie manier gevind gaan word. Los die
nege-en-negentig op Facebook se advertensieveldtogte, sê die Here, en fokus op die enkeles wat jy wel kan bereik.
|
Die Here maak die deur oop!
Onmiddellik gaan ek na my Facebook uitreikblaaie toe en gaan kyk na ‘n ou uitreikblad, Find Your Purpose, wat ek in Oktober 2019 ge-‘unpublish’ het
omdat Facebook al die skakels op hierdie Facebookblad se webblaaie geblokkeer het. Ek sien dat hierdie uitreikblad op 3 na, 2,000 volgelinge gehad het. Ek was onder die indruk dat ek hierdie blad gesluit het en kon nie verstaan waarom die blad steeds op my Facebook portefeulje vertoon nie.
Ek was egter grootliks verras toe ek uitvind dat ek die blad met die druk van ‘n knoppie weer kon herpubliseer, en onmiddellik weer ‘n nuwe flits na
‘n uitreikwebblad kon pos wat nie deur Facebook geblokkeer is nie. Hallelujah! Met die druk van ‘n knoppie het ek weer ‘n gehoor van 2,000 persone – plus die nuwe Facebook uitreikblad, Victorious Faith, wat 829 volgelinge het – ‘n totaal van 2,827 waarvan die meerderheid in die ongeëvangeliseerde wêreld woon. Prys die Here!
(Ek sou graag wou weet of daar van hierdie mense deel van die vlugtelinge was wat deur Amerika uit Afghanistan ontruim is. In verlede maand se
nuusbrief het ek berig oor Projek KuberWêreld se uitreike na Afghanistan oor die jare.)
|
Is die Groot Opdrag van Jesus Christus byna voltooi?
Wanneer sal die Groot Opdrag van Jesus Christus voltooi wees? Dit word algemeen aanvaar dat die maatstaf is dat die Bybel, of minstens ‘n deel
daarvan en die Evangelie tot elke nasie, volk, stam en taal se beskikking moet wees. Hoe vorder ons daarmee?
|
YouVersion se visie vir 2033
Die YouVersion digitale Bybel is reeds beskikbaar in 1,372 tale en 2,062 vertalings, en word reeds gebruik in elke
land van die wêreld. Hierdie is YouVersion se visie vir 2033:
- Dat 95% van die wêreldbevolking toegang sal hê tot die volledige Bybel.
- Dat 99.96% van die wêreldbevolking toegang sal hê tot die Nuwe Testament
- Dat 100% van die wêreldbevolking toegang sal hê tot minstens ‘n gedeelte van die Bybel.
| |
Wat as die digitale Bybel verban word op fone in dele van die
wêreld?
Hierdie is ‘n realiteit wat reeds bestaan, onder andere in Aghanistan onder beheer van die Taliban en in China. Op 2 Mei 2021 het die volgende berig in die Christian Post verskyn: China shuts down Bible App, Christian WeChat as new crackdown policies go into effect.
Dit is egter nie slegs die Bybel wat in sekere lande verban word nie, maar sosiale media soos Facebook, YouTube en andere is reeds op groot skaal
besig om die Evangelie van Jesus Christus regoor die wêreld op hulle media dood te smoor – waarvan Projek KuberWêreld eerstehandse ondervinding het. Die enigste ‘evangelie’ wat binnekort op die hoofstroom media toegelaat sal word is ‘n humanistiese, mensgerigte, valse ‘evangelie’ wat aan niemand aanstoot gee nie. Hier is nog ‘n artikel wat op 27 September in The Christian Post verskyn het: 'Facebook is banning Christians but allowing sex traffickers on platform ...’.
Nou kom die vraag by mens op, sal die Kerk van Jesus Christus dit ooit regkry om die Evangelie uit te dra na elke volk, stam en taal? My persoonlike
mening is, nee. Ons sal dit nooit regkry nie, maar God sal! Daarom lees ons in Op 14:6: “En ek het ‘n ander engel in die middel van die lug sien vlieg met ‘n ewige evangelie om te verkondig aan die bewoners van die aarde en aan alle nasies en stamme en tale en volke.” Dit is my persoonlike mening dat die Groot Opdrag van Jesus Christus voltooi gaan word deur die engel van Op 14:6.
Die Kerk van Jesus Christus mag egter nooit agteroor sit en ons van ons taak en verantwoordelikheid onttrek nie. Dr Oswald Smith se visie in sy
boek, Passion For Souls, bly steeds in my hart brand en ek het by sy dogter toestemming gekry om gedeeltes uit hierdie boek te herpubliseer op die internet. Hier is een: ‘Will Christ Return to Earth Before the World has been Evangelized?’
|
Baie dankie!
Hierdie bediening is afhanklik van die vrywillige finansiële ondersteuning van gemeentes en kinders van die Here wat ons visie deel. Baie dankie aan elkeen wat op een of ander manier vir Projek KuberWêreld help om die Evangelie uit te dra na al die nasies. Baie dankie aan elke medewerker wat betrokke is in gebedsondersteuning, finansiële ondersteuning, digitale uitreiking of mobilisering. Mag die Here u ryklik seën!
Indien u of u gemeente ‘n bydrae wil maak, kan u die skakel na ons bankbesonderhede hieronder vind.
|
|
|