Daar bestaan verskeie moontlikhede, maar ons sal die Here vertrou vir
die regte leiding. Ek vra u voorbidding hiervoor asseblief. Hier is ‘n paar moontlikhede wat ons tans oorweeg en ondersoek:
1. Betrek individue, gemeentes en
sendingaksies as medewerkers.
Hierdie is eintlik 'n roete wat ons nog al die tyd nastreef, maar met
beperkte sukses. Miskien is die tyd nou ryp hiervoor. Missie Oorwin is ‘n bestaande projek wat ten doel het om gemeentes, sendingaksies en individue te mobiliseer om met behulp van die digitale en sosiale media te help uitreik met die Evangelie.
Op die Missie Oorwin uitreikblad verduidelik ons
hoe om ‘n uitreikbediening op Facebook te bedryf. Hierdie projek kan uitgebrei word om die mins geëvangeliseerde lande in te sluit. Dit is my gebed dat die Here persone (asook sendingbedieninge) sal roep en inspireer om betrokke te raak. As die Here met jou praat om deel te word van hierdie projek, kontak my asseblief by die eposadres hieronder. Ons wil jou graag hierin bystaan en begelei.
2. Maak gebruik van platforms soos
Google Search, Google Ads en andere.
Hierdie is egter ‘n veel duurder en moeilker opsie om dieselfde
doelwitte te bereik as op Facebook. Ons sal ‘n groter begroting sowel as kundige hulp nodig hê om hierdie roete met goeie resultate te kan benut.
3. Maak gebruik van professionele
diensverskaffers.
Ons kan sommige funksies uitkontrakteer na professionele
diensverskaffers, maar weereens, ons sal ‘n veel groter begroting hiervoor nodig hê.
4. Die ander moontlikheid is dat die
Here ‘n voltydse persoon of sendingbediening roep om Projek KuberWêreld na die volgende vlak te neem.
Hierdie sal ‘n persoon of bediening moet wees wat Jesus Christus se
visie vir die wêreld deel en wat kennis het van digitale en sosiale media, die internet en webblad ontwikkeling, of bereid is om daarin opgelei te word. Indien die Here jou roep maar jy nie oor die vaardighede beskik nie, glo ek dat die Here jou op ‘n spesiale wyse sal toerus, soos Hy dit ook met my gedoen het. Die vaardighede hieronder is belangrik. Nommer 1 is die belangrikste en kan slegs op jou knieë verkry word. Nommers 2 tot 6 kan aangeleer
word:
1. Visie vir die Evangelie en die onbereikte wêreld
2. Digitale Media (Internet) bemarking
3. Sosiale media platforms en bemarking
4. Webblad ontwikkeling
5. SEO (Search Engine Optimization)
6. Visuele media, platforms en
bemarking