Facebook het veranderinge aangebring aan die manier waarop
hulle hul statistieke prosesseer, wat tot gevolg het dat ons resulate vanaf Maart 2021 anders lyk. Dit is as gevolg van veranderinge wat Apple in die privaatheid-stelsel van hulle selfone aangebring het. Dit is ook waarom miljoene mense op hol was om van WhatsApp na ander sosiale media oor te skakel.
Soos u in die grafiese uitbeelding hierbo kan sien, maak
Facebook nou 'n onderskeid tussen 'Post Engagements' en 'Post Reactions'. Ek kan nie regtig agterkom wat die verskil tussen hierdie twee kriteria is nie, daarom gebruik ek die laer syfer in ons statistieke.
Daar bestaan ook ander redes waarom ons nie regtig kan
staatmaak op die resultate wat deur Facebook verskaf word om ‘n akkurate prentjie te skets nie. Facebook het onder andere hierdie afgelope maand meer as 1,3 miljard valse profiele van hulle platform verwyder. Dit beteken dat ‘n gedeelte van ons advertensies soos berig in Februarie op valse profiele kon beland het. Dit kan moontlik ook verklaar waarom die aantal persone wat in Maart deur ons advertensies bereik is, byna 50% minder is as in Februarie, terwyl ons begroting en die teikenveld presies
dieselfde was.
Ons moet dus nie te veel waarde heg aan die
statistieke nie. Dit is slegs ‘n riglyn om vir ons aan te dui of ons wel ons arbeidsveld bereik. Die ware vrug op ons bediening word in elke geval nie gereflekteer deur die duisende wat Facebook sê deur ons advertensies bereik is nie, maar eerder daardie
handjievol siele wat waarlik met Jesus Christus ontmoet — en daardie resultate sal ons eers eendag in die hemel sien.
Sover as wat ons kan bepaal, was daar jaar
tot datum 1,945 terugkerende besoeke op ons Evangelie-webblaaie. Ons het 'n vermoede dat hierdie syfer dalk hoër kan wees as gevolg van die sekuriteitstellings op sommige
webblaaiers. Hierdie is die mense vir wie ons in die besonder moet bid.