Jesus gee vir ons die antwoord in Han 1:8: “... maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judéa en Samaría en tot aan die uiterste van die aarde.” Die antwoord is dus duidelik ’n Geesvervulde lewe (Punt 1), maar
hoe word mens met die Heilige Gees vervul en hoekom is so min Christene met die Heilige Gees vervul?
1. Die geheim van ‘n Geesvervulde lewe
Die geheim van ‘n Geesvervulde lewe is algehele geloofsidentifikasie met Jesus in Sy dood en opstanding! Paulus verduidelik hierdie geloofsidentifkasie met Jesus Christus vir ons op verskillende plekke, onder andere in Gal 2:20: "Ek is met Christus
gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het." Hierdie geloofsidentifikasie is iets meer en iets dieper as bloot om in Jesus Christus te glo as jou Saligmaker en Redder!
Dit begin by ‘n geloofstap van algehele oorgawe in gebed!
Wat is
algehele oorgawe?
In Rom 12:1 verduidelik Paulus die betekenis van algehele oorgawe soos volg: “En nou doen ek 'n beroep op julle, broers, op grond van die groot ontferming van God: Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen.” (ANV) Paulus verwys hier na die offers van die Ou Testament waartydens die Israeliete ‘n dier geslag en op die altaar geoffer het.
Met ander woorde, ek moet my natuurlike mens en ou self, my ou fisiese lewe met al sy sondige en egosentriese neigings, voorliefdes, begeertes, denkwyses en ideale, in die geloof aan God oorgee om saam met Jesus Christus gekruisig.te word.
Algehele oorgawe behels ook ‘n oorgawe van die ‘goeie’ dinge in my lewe aan Hom. Met ander woorde, dit is ‘n doelbewuste en vrywillige geloofsterwe aan my selflewe en ‘n geloofsoorgawe van elke terrein van my lewe aan die beheer
van die Heilige Gees wat in my woon. Met ander woorde, ek plaas nou my geestelike lewe –– die Goddelike natuur binne in my –– in beheer van my lewe in die plek van my sonde-besmette aardse lewe wat my tot nou toe gedomineer en beheer het. Dit beteken dat in plaas van my aardse lewe, my geestelike lewe nou dominant en in beheer kom van my sielsdimensie.
Een van die grootste redes waarom weergebore Christene nie met die Heilige Gees vervul word nie is omdat hulle die
Heilige Gees beperk tot sekere areas van hulle lewe en sekere vertrekke van hulle hart. Hulle wil twee lewes leef –– ‘n aardse lewe en ‘n geestelike lewe parallel langs mekaar. Die geheim van ‘n oorwinnende geestelike lewe is ‘n totale oorname van die geestelike lewe in my lewe. Dit behels ’n algehele oorgawe van my WIL met betrekking tot elke terrein van my lewe en elke kamer van my hart, tot onderwerping aan die wil van God vir my lewe soos dit tot openbaring kom in Sy Woord! Dit is ‘n totale
oorgawe aan die gesag van God en Sy Woord, insluitende Sy gedelegeerde gesag oor my lewe.
Wat is Sy gedelegeerde gesag? Dit is die gesag van die owerhede, die kerk, die skool, die huwelik en die gesin –– in soverre dit nie in konflik met die Woord van God is nie. Solank daar opstandigheid, onvergewensgesindheid, of verset in jou hart is teenoor die regering, jou kerkleierskap, jou baas by die werk, jou man as koning, priester en profeet van julle huis, jou vrou,
jou pa of ma, of jou onderwyser, sal jy nie die volheid van die Heilige Gees ontvang nie, en sal jy nie groei tot geestelike volwassenheid nie!
Wat hou jy nog vir God terug? Wat is daar in jou lewe wat jy nie gewillig is om prys te gee om in harmonie met God se Woord en wil vir jou lewe te kom nie? Een of ander onbelyde sonde, verslawing of binding? Bitterheid, opstandigheid of verset? Jou politieke, sosiale, godsdienstige of kerklike standpunte en denke? Seer of
onvergewensgesindheid? Jou eer en reputasie? Jou sekuriteit? Jou voorliefdes? Jou werk? Jou tyd? Jou besigheid, eiendom, of geld? Jou ontspanning of plesier? Die programme of videos waarna jy kyk op TV, jou rekenaar of selfoon? Facebook? Youtube? Jou verhoudinge, vriende of familie? Jou voorkoms en kleredrag? Laat die Heilige Gees maar toe om Sy ‘vinger’ op daardie ding in jou lewe te druk wat jou weerhou van God se volheids- en oorwinningslewe vir jou.
Die eerste gebod
sê, jy moet die Here jou God lief hê met jou hele hart, siel en verstand. (Mat 22:37,38.) Dit beteken jy mag geen ander gode voor Sy aangesig hê nie, en ‘n afgod is enige iets wat jy vashou, koester of beskerm, wat nie in volmaakte harmonie met God se woord, wet, wil en plan vir jou lewe is nie.
Nou is die GROOT vraag, wil jy? Wil jy met die Heilige Gees vervul word? Is jy desperaat genoeg om met die Heilige Gees vervul te word? Of is jy tevrede om in jou
huidige toestand van doelloosheid en ‘n lewe van geestelike armoede voort te ploeter? Is jy gewillig om ‘n stap van geloof te neem en Jesus Christus te vertrou om jou met Sy Heilige Gees te vervul?
Bogenoemde is ‘n aanhaling uit my webblad, ‘Hoe om jou ware doel en roeping in die lewe te vind’. Die volledige boodskap kan gelees word by: