'n Verblydende storie
Ek het reeds in 'n vorige nuusbrief geskryf oor hierdie artikel, maar deel graag 'n paar nuwe gedagtes met u. Een van die grootste gevare in die Christelike geloof, is vormgodsdiens. Hierdie is mense wat ‘n "gedaante van godsaligheid het", maar die krag daarvan nie ken nie. (2 Tim 3:5) Dit is mense wat deurgaan as Christene en Sondae in die kerk sit, maar ongered is.
'n Paar jaar gelede het die Here my belas met 'n spesifieke persoon en het ek hierdie digitale traktaatjie vir haar geskryf (sonder om haar naam te noem) en op die internet gepubliseer en met haar gedeel. Ek het die traktaatjie ook op WhatsApp en
Facebook gedeel en is dankbaar om te kan berig dat daar tot op datum reeds 2,558 hoofsaaklik generiese besoeke op hierdie webblad was soos dit deur andere gedeel is.
'n Hartseer storie
In die traktaatjie behandel ek ses Bybelse tekens en simptome van ware wedergeboorte, en as een of meer van hierdie punte ontbreek in jou lewe het jy goeie rede om te twyfel oor jou redding. Ek rig dan die
volgende versoek:
As jy ‘ja’ geantwoord het op AL SES die bogenoemde vrae, sal jy my asseblief laat weet! Antwoord my sommer op my sosiale media, met die woorde: “Ja—al ses!” Dan het ek sekerheid verkry dat jy gered is! Dan kan ek vrede
kry.
Die hartseer storie is dat ek nie kan onthou van een enkele persoon met wie ek die traktaatjie gedeel het, wat my geantwoord het nie! (Ek hoop van harte die probleem lê by my
geheue!)
Wat is die boodskap van die 'hartseer storie'?
Dit beteken natuurlik nie dat niemand waarlik gered is wat die artikel gelees het nie. Maar dit dui wel op twee moontlikhede:
- Dat baie wat die artikel gelees het dalk nie sekerheid van redding gehad het nie. Dit dui op 'n
groot verskynsel van vormgodsdiens en valse fondasies onder Afrikaners wat bely dat hulle Christene is.
- Dat vir sommige wat wel sekerheid van redding gehad het, dit nie belangrik genoeg was om daarvan te getuig nie. Hierdie is 'n belangrike rede waarom baie geredde Christene nie geestelik groei nie. Hierdie is ook 'n belangrike rede waarom baie
vormgodsdienstige Christene heel gemaklik by die kerk voel sonder om onder oortuiging van hulle verlorenheid te kom.