Jesus Christus se eerste koms het plaasgevind in vervulling van die Ou Testamentiese of die Ou Verbond -- Jesus Christus se wederkoms sal plaasvind in vervulling van die Nuwe Verbond. Die boek van Hebreërs gee vir ons by uitstek insig in die verband tussen die Ou en Nuwe Verbond. Hierdie is 'n hele studie op
sy eie en dit is belangrik om die verband tussen die Ou en Nuwe Verbond reg te verstaan. Terwyl baie wederkoms-studente die vervulling van Ou Testamentiese profesieë probeer in verband bring met die wederkoms van Jesus Christus, word die belangrikste Nuwe Testamentiese wederkomsprofesié in die Bybel dikwels in die skadu gestel.
Hierdie is die EEN wederkomsprofesié wat baie Christene nie verstaan, of wil verstaan nie. Die EEN wederkomsprofesié wat alle ander profesieë oorheers, is die EEN profesié wat dikwels heel onder aan Christene en gemeentes se agendas verskyn. Daarom het ons OPERASIE EEN DING gestig om hierdie waarheid te onderstreep! Hierdie EEN profesié word vir ons ondubbelsinning uitgespel in Jesus se uitspraak in Mat
24:14:
"En hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ‘n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom. "
Die hoofdoel van die Nuwe Verbond is die voorbereiding van die Bruid van Christus! Wanneer Jesus Christus weer kom, kom Hy om Sy Bruid te kom haal. (Op 19:7) Maar Sy Bruid is nog nie voltallig nie, want Sy Bruid sal verteenwoordig word deur elke volk, stam en taal in die wêreld. (Op 5:9; 7:9; 14:6) Dit is die verskil tussen die Kerk (die
Ekklesia of uitgeroepenes -- dit is alle weergebore Christene) en die Bruid. Die Kerk of Ekklesia bestaan reeds -- en het reeds bestaan vanaf die uitstorting van die Heilige Gees. Die Bruid is nog in wording. Die Bruid sal eers gereed wees wanneer sy verteenwoordigend is van elke volk, stam en taal.
Die wegraping sal nie plaasvind voor die Bruid van Christus voltallig en verteenwoordigend is van elke volk, stam en taal nie -- daarom is die uitdra van die Evangelie na die hele wêreld die belangrikste taak van die Kerk en elke Christen! Ons is reeds baie naby aan hierdie doel -- lees gerus die artikel, Wanneer sal die Hele Wêreld met die Evangelie bereik word?
Wanneer die wederkoms van Jesus Christus losgemaak word van die vervulling van die Groot Opdrag, lei dit tot 'n foutiewe begrip van die wederkoms. In dieselfde asem, as iemand nie 'n verlange na die wederkoms van Jesus Christus het nie, moet so iemand sy of haar redding bevraagteken. Dit is die rede waarom die vervulling van Jesus Christus se Groot opdrag heel bo aan elke Christen en gemeente se prioriteitslys moet verskyn!