Die Here het my geroep tot voltydse sendingdiens op 25 Augustus 1988, toe ek op 'n gebedswandeling by die Roodeplaatdam was. Presies 7 jaar later, op die 25ste Augustus 1995, was ek op een van my gereelde gebedswandelinge in Kameelfontein
Landgoed, buite Pretoria, toe ontwikkeling daar nog in die heel beginfase was. Toe ek daar aankom het dit egter begin reën en moes ek in my motor sit en bid. Toe ek na 'n tyd my oë oopmaak, was ek stom geslaan deur die gesig wat ek gesien het -- tesame met 'n intense ervaring van die teenwoordigheid van die Here. Die foto hierbo is 'n (onvolmaakte) illustrasie van wat ek gesien het. Die foto (sonder die reënboog) is 'n paar tree geneem vanaf dieselfde plek waar ek op 25 Augustus 1995 geparkeer
was.
Sestien jaar later, lei die Here ons as gesin na 'n onvoltooide huis in Kameelfontein Landgoed -- luister mooi -- waarvan die ingang reg
onder die plek was waar ek die reënboog-ervaring sestien jaar tevore gehad het! Die rooi sirkel op die foto hierbo dui die onvoltooide huis aan waar ons gewoon het en die pyl dui die posisie van ons ingang aan.
Was dit
toevallig, of was God besig om 'n verhaal te skryf?
Wat sou die betekenis van hierdie ervaring wees? Ek vertel die volledige verhaal in my boekie, Die Passie Van Die Evangelie, maar ek som dit kortliks vir jou op.
Die Here het hierdie gebeurtenis gebruik om die kernboodskap van die Bybel en Sy toekomstige roeping vir my lewe aan my te openbaar. Die Here het aan my openbaar uit Sy Woord dat die reënboog wat ek gesien het simbolies was van God se Ewige Verbond -- Sy skeppingsdoel en verbond om 'n nageslag en bruid vir Jesus Christus te verwek na Sy beeld, om vir ewig saam met Hom te regeer oor die skepping -- en sy roeping op ons gesin om dit te help volbring.
Die Ewige Verbond sal in vervulling gaan met die wederkoms van Jesus Christus. Maar daar is Een Ding wat Sy wederkoms vertraag -- Sy onvoltooide 'huis'.
Hier in die onvoltooide huis het die Here my ingelei in die Projek KuberWêreld bediening en die Operasie Een Ding visie aan my geopenbaar. Sedert 2010 het Projek KuberWêreld miljoene mense in
die mins-geëvangeliseerde wêreld bereik met die Evangelie van Jesus Christus deur die internet, maar die Here het 'n veel groter plan in gedagte gehad. Hy wou elke Christen deel maak van hierdie groot visie, naamlik, om die hele wêreld met die Evangelie te help bereik deur digitale media. Dit was die Operasie Een Ding visie.
Die simboliek van ons onvoltooide huis was die onvoltooide sendingtaak -- maar ook ons eie onvoltooide roeping. Ons kon hierdie huis en ons roeping in die sewe jaar wat ons daar gewoon het nooit voltooi nie -- vir dieselfde rede(s) waarom die Kerk van Jesus Christus na 2,000 jaar nog steeds nie God se 'huis' voltooi het en elke volk, stam
en taal met die Evangelie bereik het nie. Toe gebeur daar iets.
Augustus 2025
Augustus 2025 -- presies 30 jaar na my reënboog ervaring -- word Operasie Een Ding gestig as 'n nie-wins organisasie en bediening met die doel om die hele wêreld te help bereik met die Evangelie met behulp van digitale tegnologie en -media! Prys die Here!
Vir meer as tien jaar het ek geworstel met planne van my eie -- totdat die Here Sy hand bonatuurlik op twee mense se skouers kom lê het om die leiding te neem -- nadat ek opgehou het om te spartel en 'my' visie en planne geheel en al aan die Here oorgegee het.
Die Here het 'n GROOT plan ook met JOU lewe -- en dit kan begin by 'n stap van algehele oorgawe van jou eie planne!