Hierdie video, Leah’s Eyes Were “Weak”? het my oog gevang op YouTube en my eerste reaksie was, waarom sou iemand ‘n video oor hierdie onderwerp wil publiseer?
Kan ‘n mens glo dat hierdie video
55,000 kyke ontvang het in die eerste drie dae van publikasie?! Die vraag wat by my opgekom het is, waarom sou 55,000 Christene in drie dae belangstel om te weet wat dit beteken dat Lea se oë 'dof' was, terwyl ongeveer ‘n derde van die wêreld se bevolking sonder die Evangelie sit?
Terwyl ek met hierdie vraag worstel skets die Heilige Gees vir my 'n prentjie.
(Terloops, dit is gladnie die tema van die bogenoemde video nie!) In Gen 29:16,17 lees ons: “En Laban het twee dogters gehad—die naam van die oudste was Lea, en die naam van die jongste Ragel. En Lea het dowwe oë gehad, ...” (OAV) In die bogenoemde video verduidelik die aanbieder dat daar verskeie betekenisse van Lea se ‘dowwe’ oë kan wees. Die prentjie wat die Heilige Gees vir my geskilder het is egter gladnie in harmonie met die
'teologiese' verklaring van Lea se ‘dowwe’ oë nie, maar die Here het dit gebruik om aan my ‘n boodskap oor te dra.
Ek sien ‘n prentjie van die Kerk (universeel) – waarvan die 'oudste dogter' (met baie kinders) 'dowwe oë' het – dowwe oë vir die Evangelie -- dowwe oë vir die onbereikte wëreld en die voltooiïng van Jesus Christus se Groot Opdrag!
Die ander kant van die prentjie ...
Daar is egter ‘n ander kant van die 'dowwe oë' prentjie. Ons lees dit in Joh 9:1-7: “(1) En toe Hy verbygaan, sien Hy ‘n man wat blind was van sy geboorte
af. ... (4) Ek moet die werke doen van Hom wat My gestuur het, so lank as dit dag is; die nag kom wanneer niemand kan werk nie. (5) So lank as Ek in die wêreld is, is Ek die lig van die wêreld. (6) En toe Hy dit gesê het, spuug Hy op die grond en maak klei van die spuug en smeer die klei aan die oë van die blinde man (7) en sê vir hom: Gaan was jou in die badwater Silóam, wat vertaal word: Uitgestuur. En hy het
gegaan en hom gewas; en hy het siende teruggekom.” (Beklemtoning my eie.)
Behalwe vir die blindheid van 'n ongeredde lewe, het ons almal van nature dowwe geestelike oë vir God se wil en plan vir ons lewens. Ons het ‘n beperkte visie van dit waarmee God besig is in die wêreld en Sy roeping vir ons lewens, maar Jesus
Christus wil ons geestesoë aanraak. Hy wil ons was in die ‘badwater van Siloam’, en Hy wil ons stuur – stuur na die uiteindes van die aarde. As ons nie self kan gaan nie roep Hy ons om ander te stuur deur ons gebeds- en finansiële ondersteuning. Boonop het Hy aan ons 'n kragtige instrument gee -- digitale tegnologie en media -- waarmee ons die hele wêreld vanuit ons eie huis met die Evangelie kan bereik!
'n Gejaag Na Wind
Hierdie is die uitdaging vir die 'Lea’s' van ons tyd. Terwyl daar ‘n onbereikte wêreld is wat met die Evangelie bereik moet word, redeneer ons oor wat dit beteken dat Lea se oë 'dof'
was. Terwyl ons besig is met ‘n gejaag na wind, sterf daar ongeveer 155,000 mense elke dag sonder Christus! Dit word beraam dat daar ongeveer een biljoen mense die afgelope 40 jaar gesterf het sonder dat hulle een keer die Naam van Jesus Christus gehoor het -- terwyl 55,000 in drie dae gehoor het wat dit beteken dat Lea se oë 'dof' was! Wat 'n gejaag na wind! Wat van liewer die Evangelie uitstuur na 55,000 mense wat nog moet hoor? Dit is die keuse wat elke kind van God moet
maak!
Ek het gedurende die maand 'n nuwe artikel gepubliseer, ''n Gejaag Na Wind'. Lees dit by hierdie skakel.