Behalwe vir die hemel, het God 'n wonderlike plan en doel vir jou as Sy kind hier op aarde! Dis hoekom Hy jou Sy kind gemaak het! God het jou Sy kind gemaak met 'n baie spesifieke doel, plan en roeping in gedagte, en Hy het 'n begeerte in jou hart ingeplant om hierdie doel en roeping vir jou
lewe te vind. Daarom sal jy slegs ware en blywende vervulling in jou Christelike lewe ervaar wanneer jy hierdie doel en roeping vind en leef!
Hierdie doel is egter gladnie wat baie Christene dink nie! Laat ons 'n paar algemene misverstande uit die weg
ruim.
- God het jou nie primêr Sy kind gemaak om eendag hemel toe te gaan en jou van die hel te red nie.
- God het jou nie primêr Sy kind gemaak om aan jou nuwe aardse waardes en aardse lewensdoel te gee nie.
- God se doel vir jou lewe hier op aarde is nie primêr om van hierdie wêreld 'n beter plek te maak nie.
- God se doel vir jou lewe hier op aarde is nie primêr om God se ‘liefde’ in hierdie wêreld uit te dra nie.
- God se doel vir jou lewe hier op aarde is nie primêr vir jou en jou gesin se materiële welstand nie.
- God se doel vir jou lewe hier op aarde is nie primêr om 'kerk' toe te gaan en by 'die kerk' betrokke te wees nie.
Dit beteken nie dat die bogenoemde doelwitte nie ook waar en geldig is nie, maar dit staan sekondêr tot God se primêre skeppingsdoel en roeping vir jou lewe. Daar is
nog veel meer wat ons kan opnoem. As een of meer van bogenoemde punte die primêre doel van jou Christenskap is, is jy besig om God se hoogste doel vir jou lewe te mis!
Jesus Christus het jou Sy kind gemaak vir 'n heerlike doel, en hierdie doel is baie hoër as wat meeste
Christene besef! Jy sal nooit jou doel as Christen in hierdie lewe vind vir solank jou visie op die aarde is nie!
Lig jou oë hoër! Kyk op na die wolke! Lig jou ken! Mik hoër!
Die wederkoms van Jesus Christus is die finale vervulling van God se plan vir die Kerk en elke Christen.
Jesus Christus het jou Sy kind gemaak omdat Hy met Sy wederkoms met jou wil trou! Dis geen grap nie! In Op19:7 lees ons: "Laat ons bly wees en ons verheug en aan Hom die heerlikheid gee, want die bruilof van die Lam het gekom en sy vrou het haar gereed gemaak." Jesus Christus wil in 'n heilige eg met jou verbind wees! Jesus Christus wil in 'n geestelike huweliksverhouding met jou staan! Hy wil jou deel van Sy
Bruid maak!
As jy deel van die Bruid is wil Hy jou gebruik om Sy Bruid te help versamel uit die nasies -- want Sy Bruid sal met Sy wederkoms verteenwoordig word deur elke volk,
stam en taal in die wêreld. Op 5:9: “U is waardig om die boek te neem en sy seëls oop te maak, want U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie, ..”
Die skeppingsdoel van God
is om 'n Bruid en nageslag vir Jesus Christus te verwek uit elke volk, stam en taal, om in ewigheid saam met Hom te regeer oor die skepping!
Dit is die rede waarom die bereiking van elke volk, stam en taal, en die voltooiïng van Jesus se Groot Opdrag die Kerk en elke
Christen se hoogste doel en prioriteit moet wees.
Ons glo dat die digitale eeu waarin ons leef deur God bestem is om Sy Kerk se afspraak met die nasies te help volbring en dat Hy elke Christen oproep tot betrokkenheid!
As jy wil weet hoe jy en jou gemeente deel van hierdie doel van God kan wees, volg hierdie skakel.
Hier kan jy meer lees oor die geheim om God se plan en roeping vir jou lewe te vind: Hoe Om Jou Ware Doel En Roeping In Die Lewe Te Vind - Deel 3.