Die balk is in die verkeerde oog - vervolg
Eintlik het die
KI program my boodskap volmaak geïllustreer.
Daar is geen data beskikbaar wat Kunsmatige Intelligensie kon gebruik om die beskrywing wat ek gevra het, te illustreer nie. Die Bybel is die enigste Bron -- en dit is slegs die Heilige Gees wat dit aan
'n hart kan openbaar!
Ek wou die punt illustreer dat elke mens van nature altyd die sonde van andere eerste raaksien voor sy eie. Die 'balk' waarvan Jesus praat in Mat 7:3-5 is niks anders as die mens se sondige natuur nie -- en dit is nie slegs sommige mense wat 'n balk in die oog het nie!
Elke mens word geestelik blind gebore.
Die sondige natuur van die mens identifiseer altyd die probleem buite homself. Ons kry talle voorbeelde hiervan in die Bybel, vanaf Adam wat vir Eva die skuld gegee het en Eva wat vir die slang die skuld gegee het, tot Dawid wat die profeet Natan nodig
gehad het om sy 'balk' uit te wys. Van nature is die mens selfgesentreerd en eiegeregtig. Elkeen van ons word met 'n 'balk in ons eie oog' gebore. Van nature is elke mens op aarde 'n gebore Fariseër.
Daarom is die Evangelie van Jesus Christus die enigste oplossing vir die mens se
sondeprobleem. Die boodskap van die Evangelie eindig nie wanneer ek sekerheid van redding ontvang het nie -- dit begin slegs daar. Die wonder van die Evangelie is dat dit ook die oplossing bevat vir die kruisiging van my sondige natuur en die 'balk' in my oog, wat geen kunsmatige intelligensie (of -spiritualiteit) kan namaak nie!
Die 'balk' in my oog (wat ek nie raaksien nie) is die fundamentele rede vir oppervlakkige Christenskap en vormgodsdiens in die kerk. Die 'balk' in my oog is die fundamentele rede vir verdeeldheid onder Christene. Die 'balk' in my oog is die fundamentele rede vir gebrek aan visie vir 'n verloregaande wêreld. En ...
Die 'balk' in die oog van die Kerk van Jesus Christus is die fundamentele rede waarom elke volk, stam en taal nog nie met die Evangelie van Jesus Christus bereik is
nie!
Wat is die oplossing vir die 'balk in my oog'? Die oplossing word vir ons netjies saamgevat in Romeine 12:1,2: "En nou doen ek 'n beroep op julle, broers, op grond van die groot ontferming van God: Gee julleself aan God as lewende en
heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen. Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is." (NAV)
Vir verdere inligting, kyk gerus na ons videos, 'The Secret Of God's Purpose - Part 4' en 'The Secret Of God's Purpose - Part 5', of besoek ons Afrikaanse webblad, 'Die Geheim van ‘n Oorvloedige, Doelgerigte Lewe'.