Hierbo is Projek KuberWêreld se nuutste video
wat op YouTube gepubliseer is -- die vierde gedurende Augustus. Hierdie is nie 'n populêre onderwerp nie en ek verwag dat hierdie video minder aandag sal trek.
Die uitdaging op YouTube
is om 'n konstante stroom van nuwe videos te kan publiseer. Dit voel somtyds vir mens of jy die einde van jou bronne en idees bereik het. Maar die Heilige Gees is getrou!
Die wonder van die
Evangelie is dat die Evangelie nie in 'n aparte hokkie as die res van die lewe staan nie. Elke ding in die lewe se bron, bestaan, sowel as eindresultaat is gekoppel aan die Evangelie. Wanneer 'n mens hierdie waarheid verstaan, besef jy dat die Evangelie die een sentrale saak is waaroor die hele lewe gaan. Die Evangelie is nie slegs die bid van 'n sondaarsgebed nie -- dit begin slegs daar in die lewe van 'n verlore sondaar!
Hier is 'n voorbeeld. Ons land word geteister deur 'n algroterwordende monster van misdaad. Omgewings- en buurtwagte fokus al meer op veiligheid, en toenemende bronne (menslike, finansiële, sowel as tyd) word hierin geïnvesteer. Die fundamentele oplossing
vir die probleem is egter die Evangelie. Wat sou gebeur wanneer dieselfde bronne -- menslike, finansiële, sowel as tyd -- in die uitdra van die Evangelie en gebed geïnvesteer word?
Hierdie
selfde waarheid is van toepassing op elke ander gebied -- die politiek, die sakewêreld, noem dit maar op. Die rede waarom ek so onverskrokke in my uitsprake is, is omdat ek God se plan vir die wêreld verstaan soos hierbo genoem. Ek verstaan waarmee God in die wêreld besig is -- en die Evangelie staan sentraal in hierdie plan! Dit is 'n kwessie van fokus - 'n aardse of hemelse!
In verlede maand se nuusbrief het ons die Bybel se fokus vir die Christen behandel: “Soek eers die Koninkryk van God ..., en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word ...” Die probleem van die Christendom van ons dag is dat ons dit nie regtig glo nie. Ons verkies 'n self-help
evangelie -- 'God help hulle wat hulleself help.' Ons soek eers ons eie koninkryk en dinge, en wil dan die Koninkryk van God byvoeg. Dit is waarom die hele wêreld na bykans 2,000 jaar nog steeds nie bereik is met die Evangelie nie.