Belangrike Bybelse waarhede m.b.t. geestelike vrugbaarheid
Voor in my Bybel is daar kopieë van drie artikels wat vir my baie in my geestelike lewe beteken het meer as dertig jaar gelede, toe ek na die Here se wil, plan en roeping vir my lewe gesoek het. Ek het later besef dat hierdie waarhede
van fundamentele belang is om vrugbaar in diens van die Here te staan en deur Hom gebruik te word.
Die
eerste artikel se titel is, ‘n Dieper Dood Aan Self’, deur G D Watson. Toe ek hierdie artikel nou weer lees, was die boodskap vir my nog net so kragtig as vyf-en-dertig jaar gelede. Ek het intussen die oorspronlike
artikel in Engels op die internet opgespoor – sonder kopiereg – en dit is die onderwerp van my volgende video op YouTube. Ek vertrou om in volgende maand se nuusbrief die skakel te kan deurgee.
Verdeeldheid is een van die grootste oorsake dat die Heilige Gees geblus word in die Kerk van Jesus Christus
Een van die ander artikels in my Bybel wat ek na meer as dertig jaar weer gelees, en net so tot seën gevind het, is die onderstaande – Die Onkritiese Gees. Ek publiseer dit graag in hierdie nuusbrief. (Dit kom uit ‘n Afrikaanse weergawe van een of ander dagstukkie boek, maar
ek kan gladnie meer onthou wie die outeur of die naam van die boek was nie. Miskien is daar iemand wat hier lees wat my daarmee kan help.)
Die Onkritiese Gees
“Moenie oordeel nie, sodat julle nie geoordeel mag word nie.”
Mat 7:1.
Met betrekking tot oordeel sê Jesus – Moenie. Die gemiddelde Christen is die mees deurtastende kritikus. Kritiek is 'n
onderdeel van die gewone menslike vermoëns, maar in die geestelike wêreld rig dit niks uit nie. Die uitwerking van kritiek is om die kragte van die gekritiseerde te verbrokkel. Die Heilige Gees is die enigste Een wat in 'n juiste posisie is om te kritiseer; alleen Hy is in staat om aan te dui wat verkeerd is sonder om seer te maak of te verwond. As jy in 'n kritiese luim is, is dit altyd onmoontlik om met God in gemeenskap te tree; dit verhard jou en maak jou wraaksugtig en wreed en laat jou
onder die vleiende indruk dat jy 'n meerderwaardige persoon is. Jesus sê -- as 'n dissipel moet jy 'n onkritiese gees aankweek. Dit geskied nie eens en vir altyd nie. Pasop vir enigiets wat jou die plek van a meerderwaardige persoon laat inneem.
Van die skerpsinnigheid van Jesus kom 'n mens nie weg nie. As ek die splinter in jou oog sien, dan beteken dit dat daar 'n balk in myne is. Elke verkeerde ding wat ek in jou sien, bring God by myself tuis. Elke keer as ek oordeel, veroordeel ek myself.1 Hou tog nie langer 'n meetstok vir ander mense gereed nie. In elke mens.se omstandighede is daar altyd nog
iets waarvan ons niks weet nie. Die eerste wat God doen, is om ons 'n deeglike geestelike skoonmaak te laat ondergaan; na so iets is daar nie die minste moontlikheid vir enige hoogmoed om in 'n mens oor te bly nie. Ek het nog nooit iemand teëgekom aan wie ek gewanhoop het, nadat ek gesien het wat daar in my skuil as dit nie was vir die genade van God nie.
1 Sien Rom 2:17-20