Liewe vriende, hierdie afgelope maand het my lewe tot stilstand gekom. Dit het vir my gevoel ek het die hoogste prys betaal vir
hierdie EEN DING -- om getrou te bly aan die Here se roeping vir my lewe. Ek is gestroop van alles wat vir my kosbaar was. Dit gaan egter nie oor my nie, dit gaan oor Hom vir Wie dit alles gekos het. Op Golgota het Jesus Christus die hoogste prys betaal – waarvoor?
Ons dink almal dat ons die antwoord ken. Ons weet dit was vir my en jou. Ons weet ook dit was vir die sonde van die wêreld. Maar dit is slegs een helfte van die antwoord. Dit is die ander helfte van die antwoord waarmee baie Christene worstel, of nie verstaan nie. Of is dit dalk nie vir hulle belangrik nie?
Die ander helfte van die verhaal
Wat is hierdie ander helfte van die verhaal?
Die ander helfte is dat Jesus Christus die hoogste prys betaal het om vir Hom ‘n bruid en nageslag te versamel na Sy beeld, uit elke volk, stam en taal, om in ewigheid saam met Hom te regeer oor die skepping. Hierdie doel sal finaal vervul word met die wederkoms van Christus – en Hy roep elke kind van God om hierdie doel met volle oorgawe te help verwesenlik.
Die wederkoms van Jesus Christus en die voltooiïng van Jesus Christus se Groot Opdrag loop hand aan hand. Wanneer sal die Groot Opdrag voltooi
wees? Wanneer die Evangelie tot elke volk, stam en taal se beskikking is. Met ander woorde, die primêre fokus van die sendingtaak moet wees om die Evangelie na die onbereikte wêreld uit te dra. Om ‘n verlange te hê na die wederkoms van Jesus sonder ‘n visie en las vir die onbereikte wêreld, is ‘n teenstrydigheid. In dieselfde asem, is ‘n sendingvisie sonder ‘n wederkomsverlange ‘n teenstrydigheid.
Die Kerk van Jesus Christus se hoogste roeping
Wat van kardinale belang is om te verstaan is dat die voltooiïng van die Groot Opdrag die Kerk se primêre en hoogste roeping is -- en hierdie roeping vra 'n algehele oorgawe aan God se doel en
plan.