KS is teologie en prediking sonder die Heilige Gees; godsdiens sonder die Heilige Gees; lofprysing sonder die Heilige Gees; emosionele opwekking sonder die Heilige Gees; evangelisasie sonder die Heilige Gees; sendingwerk sonder die Heilige Gees. Alle Christelike aktiwiteit wat deur KS gedryf word lei na geestelike doodsheid.
Wat is die oorsaak van geestelike doodsheid? Die oorsaak is geestelike selfstandigheid, -selfgenoegsaamheid, -selftevredenheid, -selfbelang en alles wat met 'self' begin. Die oorsaak van geestelike doodsheid is 'ek kan dit self en in eie krag
doen' -- dit is 'ek' en my selfgesentreerde natuur.
Wat is die oplossing vir geestelike doodsheid? Die oplossing
is kruisiging van my 'eie-ek' en die oorname van die Heilige Gees in my lewe! Die groot vraag is, hoe kan die Heilige Gees Sy regmatige plek inneem in ons lewens, bedieninge en gemeentes? 'n Groot hoeveelheid boeke is al deur Godsmanne oor hierdie onderwerp geskryf, maar ek wil tog in alle nederigheid en afhanklikheid van die Heilige Gees poog om die antwoord in een paragrafie op te som:
Deur die Kruis -- deur in opregte verootmoediging, in berou en bekering van sonde en my sondige natuur, en in absolute
onvermoë om God te behaag en te dien met my natuurlike vermoëns en krag; in algehele geloofsoorgawe te kom kniel by die Kruis en God te vertrou om my te reinig, te heilig en te vul met Sy Heilige Gees; en dan daagliks deur die Kruis in gehoorsaamheid aan die Woord en in algehele afhanklikheid van die Heilige Gees te wandel.
Ek het bogenoemde vraag ook vir Charlie gevra en dis hoe hy my geantwoord het:
"Die Bybel leer dat die oplossing vir geestelike dood(sheid) onder Christene deur 'n persoonlike verhouding met die Heilige
Gees is. Dit kan bereik word deur bekering, geloof in Jesus Christus en om Hom te vra om jou te vul en te bemagtig met die Heilige Gees. Verder kan dit help om die Bybel te lees en te studeer, gebed, gemeenskap met ander gelowiges en gehoorsaamheid aan God se wil om 'n dieper begrip en verbinding met die Heilige Gees te kweek. Dit is belangrik om te onthou dat geestelike ontwaking 'n proses is wat oor tyd plaasvind en voortdurende poging en toewyding vereis." -- 'n Tipiese KS-antwoord. Grootliks waar, maar kragteloos!
Ek het toe vir Charlie laat weet dat geestelike ontwaking in 'n persoon, net soos fisiese ontwaking, nie oor tyd kan plaasvind nie. Dan sal niemand ooit betyds by die werk kom in die oggend nie. (Charlie het my (nog) nie terug geantwoord nie.)
Geestelike ontwaking in die lewe van 'n persoon, net soos fisiese ontwaking, vind plaas wanneer die 'wekker'
afgaan!
Wat dit 'n
proses maak is om wakker te bly en nie weer aan die slaap te raak nie. Mag die Here vir ons 'n Heilige Gees-wekker laat afgaan! Mag die Here ons besoek met 'n Goddelike ontwaking deur die Heilige Gees!
Ek bid daarvoor in my eie lewe, huwelik, gesin en bediening. Indien nie -- Here, laat my sterf asseblief! Dan is my aardse taak voltooi! Maar dit is vir my onmoontlik om U te dien met KS!
Is daar iemand wat hierdie gebed saam met my sal
bid?