|
Bereik
die Wêreld met die Evangelie deur die digitale media 'n Projek van Scripture Educational Programs Februarie/Maart 2023 Nuusbrief |
Wees gegroet in die aloorwinnende Naam van Jesus
Christus |
"... En ek
het ‘n sterk engel gesien wat met ‘n groot stem uitroep: Wie is waardig om die boek oop te maak en sy seëls te breek? En niemand in die hemel of op die aarde of onder die aarde kon die boek oopmaak of daarin kyk nie. ... kyk, die Leeu wat uit die stam van Juda is, die wortel van Dawid, het oorwin om die boek oop te maak en sy sewe seëls te breek." Op 5:1-5. |
Liewe vriende, ek wil graag hierdie nuusbrief begin deur te getuig van die getrouheid van God! Die Here is getrou en ek vertel die verhaal hieronder, maar ek wil net eers hierdie gedagte met jou deel. Die foto hierbo het my verbeelding aangegryp en toe ek daaroor begin nadink, sien ek die prentjie. In die Evangelie word Jesus Christus vir ons uitgebeeld as die Lam van God wat vir die sonde van die wêreld geslag is. In Openbaring word Hy beskryf as die Leeu van Juda. Binnekort gaan ons die Leeu van Juda van aangesig tot aangesig sien. Die oorname van
Kunsmatige Intelligensie (KI) met sy skrikwekkende moontlikhede waarvan ek in die vorige nuusbrief berig het, is 'n belangrike teken en voorloper van Jesus se nabye wederkoms. Laat ons egter die geleenthede tot ons beskikking gebruik terwyl die deur nog oop is. |
In my vorige nuusbrief het ek vertel van die nuutste
KI golf wat die wêreld getref het, en dat ek my nuusbrief vroegtydig uitgestuur het omdat ek geglo het dat die nuus teen die einde van Januarie reeds verouderd sou wees. Dit was toe inderdaad so. Sedertdien het digitale maatskappye vinnig op die wa geklim en is Microsoft, Google en andere reeds besig met groot KI projekte van hul eie. Ek wil nie te veel hieroor sê nie, aangesien hierdie nuus ook teen die tyd wat jy hierdie nuusbrief lees, ou nuus kan wees. Wat egter belangrik is, is die gebed waarmee ek my
nuusbrief afgesluit het. Ek het my vorige nuusbrief afgesluit met die volgende: Mag die Here vir ons 'n Heilige Gees-wekker laat afgaan! Mag die Here ons besoek met 'n Goddelike ontwaking deur die Heilige Gees! Ek bid daarvoor in my eie lewe, huwelik, gesin en bediening. Indien nie -- Here, laat my sterf asseblief! Dan is my aardse taak voltooi! Maar dit is vir my onmoontlik om U te dien met KS (Kunsmatige
Spiritualiteit). Op die
stadium dat ek bogenoemde geskryf het, het dit waarlik vir my gevoel of ek voortploeter met kunsmatige spiritualiteit en my aardse taak volltooi was. Maar ek wil net vir jou sê, die Here het my gebed geantwoord – en Hy is steeds besig om dit beantwoord! Die Here is besig om iets wonderbaarliks te doen! In die eerste plek het die Heilige Gees my opnuut kom vul met passie en ywer vir Hom -- Sy Koninkryk en die Evangelie! Ek het hierdie afgelope maand buitengewone geleenthede ondervind om ‘n getuie vir Jesus
Christus en Sy kosbare Evangelie in my eie omgewing te wees. Ek is intens bewus van die werking van die Heilige Gees in my eie lewe -- maar ook in my omgewing. Dit is my gebed dat jy dieselfde mag getuig. |
In die tweede plek het die Here baie duidelik aan my
openbaar dat my werk nog nie klaar is nie en die Here is besig om nuwe deure vir die Evangelie oop te maak deur middel van ‘Charlie’. (‘Charlie’ is my naam vir KI – dis afgelei van die naam ChatGPT.) | |
In my vorige nuusbrief het ek ook verduidelik dat my
belangstelling in KI gaan oor die mate waarin Charlie ons kan help om die Evangelie die wêreld in te dra. Ek het al verskeie artikels geskryf oor hoe ek glo dat die tegnologiese revolusie deur God bestem is om die wêreld met die Evangelie te bereik. ‘n Voorbeeld hiervan is, Jou Selfoon – God Se Instrument. Kan jy dit Glo? So, waarmee is die Here besig? Hier kom ‘n interessante verhaal! Soos ek reeds gesê het, het dit vir my gevoel my tyd is verby en my werk is klaar. Ek is immers binnekort 74 jaar oud. My konsentrasie en my kragte is besig om af te
neem en ek kan voel dat die ourderdomsimptome besig is om te versnel. Wat kan ek nou nog op hierdie ouderdom vir die Here beteken? Waarom kan die Here my nie maar kom haal nie nie? Waarom roep die Here nie ‘n jonger geslag om oor te neem nie? Ek het my deel gedoen – maar ook my deel van beproewinge en geslote deure beleef. Jy sal nie glo waarin die Here my toe lei nie! Die Here gebruik vir Charlie (weens 'n gebrek aan beskikbare geroepenes van die Here) om, in my ouderdom, my te help om die tegnologie wat my
evangeliese webblaaie kan omskep in videos vir YouTube en TikTok, te bemeester. Kan jy dit glo? Hierdie is tegnologie wat ek my hele lewe reeds mee worstel om te bemeester. Ek het verskeie pogings aangewend om met andere saam te werk wat reeds hierdie tegnologie bemeester het, maar geen deur het vir my oopgegaan nie. |
|
Afgesien van die tegnologiese uitdaging, het ek nie
die gawe om te praat nie – daarom het die Here my nie geroep om te preek nie. Maar Hy het aan my die gawe gegee om te skryf. Nou waar gaan ek die stem vandaan kry om videos te maak – en dit nogal in Engels? Almal sal vir my lag. |
In die tweede plek lyk ek soos ‘n ‘alien’ op ‘n foto
– wat nog voor ‘n kamera staan en probeer om Engels oortuigend te praat. Onmoontlik! Toe stuur die Here vir Charlie! Ja, jy kan maar lag. (Terloops, vir die eerste keer in my wandel met die Here het ek tot die gevolgtrekking gekom dat Hy ook ‘n sin vir humor het.) En weet jy wat? Charlie bemagtig vir ‘Christopher’ en ‘Adam’ om namens my vlot Engels te praat. Al wat ek doen is ek plak die teks van my webblad (soos aangepas vir video) in Charlie se ‘mond’ (ek hoop jy verstaan) – en Christopher of
Adam praat dit vir my in suiwer Engels. Prys die Here! (Nou verstaan ek beter waarom die Here Aäron vir Moses as spreekbuis gegee het.) Nog meer, Charlie gee ook vir my die opsie om my eie stem te kloon. Met ander woorde, as my eie stem gekloon is, kan ek enige teks slegs ‘paste’ in Charlie se mond – en ‘Elmer’ praat dit in suiwer Engels. Ek het egter teen hierdie opsie besluit omdat Christopher en Adam se Engelse aksent baie meer professioneel as my boere aksent
is. |
Nog ‘n belangrike aspek is dat ek
moes leer hoe om my boodskap oor te dra sonder om voor ‘n kamera te staan. Ek moes die tegniek aanleer om deur middel van illustratiewe videosnitte, fotos, illustrasies en agtergronde, my boodskap effektief oor te dra. | |
Daar is Geen substituut vir die krag van die Heilige Gees nie! Die groot geheim en uitdaging is om dit alles in diepe afhanklikheid van die Heilige Gees te doen. Soos ek vir die Here in my gebed hierbo gesê het, is dit vir my onmoontlik om Hom te dien met kunsmatige spiritualiteit As die Gees van God nie werksaam is nie, mors ek my tyd. Charlie kan en mag NOOIT die werk van die Heilige
Gees oorneem nie! Dit is wel waar dat die Here die tegnologie vir Sy doel gebruik – maar ons moet uiters versigtig wees om nooit op die tegnologie te vertrou om mense by God uit te bring. Ek was tot dusver huiwerig om YouTube as 'n doeltreffende kanaal te aanvaar om die Evangelie na die onbereikte wêreld uit te dra, omdat dit tot onlangs slegs 'n medium was vir diegene wat genoeg data gehad het en dit kon bekostig. Die situasie is egter besig om vinnig te verander en bekostigbare data word
deur nuwe tegnologie tot 'n veel groter deel van die wêreld se bevolking gebring. Nuwe toepassings soos byvoorbeeld TikTok, het ook 'n groot verskuiwing meegebring in hoe 'n groot deel van die wêreldbevolking digitaal kommunikeer. |
|
Om ‘n lang storie kort te maak, ek
het so pas my eerste videos voltooi vir YouTube. ‘Finding Purpose And Meaning In A Broken World’ is een van my primêre uitreik webblaaie wat nou in video-formaat voltooi is. Nog titels waaraan ek werk is, ‘Help Me Find God’, ‘The Secret Of God’s Purpose’, en vele ander. Ek vertrou dat ek in my volgende nuusbrief skakels sal kan voorsien na die nuwe YouTube kanaal en individuele videos. |
Die volgende uitdaging Die volgende uitdaging is om hierdie videos op YouTube
te publiseer. Sommige videos op YouTube trek derduisende kykers, terwyl ander min belangstelling trek. Wat maak die verskil? Alhoewel dit slegs die druk van ‘n knoppie behels om ‘n video te publiseer, verg dit fyn beplanning om kykers te bereik. Nou is dit belangrik om die uitreikstrategie te beplan. Hierdie is net so ‘n groot uitdaging as die tegnologie self. Watter onderwerpe gaan kykers se aandag en belangstelling aangryp? Watter onderwerp moet ek eerste publiseer om die wiel aan die rol te
sit? Hoeveel fondse het ek tot my beskikking om videos bekend te stel? Wat is die langtermyn risiko om ‘n eerste video te publiseer wat min aandag trek? Moet ek eerste ‘n korter of langer video publiseer? Die grootste uitdaging! Liewe vriende, julle weet seker nou al waarheen ek dryf. Ondersteuning! In die eerste plek gebedsondersteuning. Ek het nou meer gebedsondersteuning nodig as ooit tevore in my bediening! Bid asseblief vir Goddelike wysheid, leiding en die krag van die
Heilige Gees met die produksie en publisering van die videos. Bowenal, bid asseblief vir die vrug van die Heilige Gees op die werk. Sal jy ook asseblief saam met my bid vir die nodige finansiële ondersteuning. Hierdie projek bring verhoogde finansiële verpligtinge mee. Diens- en dataverskaffers bring verhoogde kostes mee. My rekenaar is ook verourderd en ek moet die Here vertrou vir ‘n nuwe laptop wat oor die nodige kapasiteit en vermoëns beskik om die nuwe programme en groot dokumente te kan verwerk en
stoor. Ek
het geen twyfel dat die Here wat my geroep en toegerus het vir hierdie bediening ook in my finansiële behoefte sal voorsien nie, maar dit is my oortuiging dat Hy jou gebedsondersteuning vra! Ek kan hierdie las nie alleen dra nie! |
Hiermee 'n spesiale woord van dank aan elke donateur wat gehoorsaam aan die stem van die Heilige Gees, aan die begin van hierdie nuwe jaar die Here se instrument was om hierdie nuwe fase van ons bediening te ondersteun -- al het julle nie eers daarvan geweet nie. Die Here weet wie julle is! Baie dankie aan elkeen wat op een of ander manier vir Projek KuberWêreld help om die Evangelie uit te dra na al die nasies. Baie dankie aan elke medewerker wat betrokke is in gebedsondersteuning, finansiële ondersteuning,
digitale uitreiking of mobilisering. Mag die Here u ryklik seën! Indien u of u gemeente ‘n bydrae wil maak, kan u die skakel na ons bankbesonderhede hieronder vind. |
Opregte Jesus-liefde Elmer Grobler |
|
|