|
Bereik
die Wêreld met die Evangelie deur die Internet September/Oktober 2022
Nuusbrief |
Wees gegroet in die aloorwinnende Naam van Jesus
Christus |
Daarop hoor
ek die stem van die Here wat sê: Wie sal Ek stuur? En wie sal vir ons gaan? Toe antwoord ek: Hier is ek, stuur my. Jes. 6:8 |
Liewe vriende, in verlede maand se nuusbrief het ek gefokus op die belangrikheid om 'n Goddelike visie en passie te hê vir die bereiking van die Onbereikte Wêreld met die Evangelie. Ek het verlede maand ook die Passie-boodskap bekend gestel. Ons het ook gesê dat elkeen van ons 'n gestuurde van die Here is. Hierdie maand wil ek fokus op jou en my beskikbaarheid vir God se
roeping.
Projek KuberWêreld se
verhaal |
Ek vertel die verhaal van my roeping in die boekie wat ek verlede maand bekendgestel het, 'Die Passie Van Die Evangelie'. Ek wil jou aanmoedig om hierdie boekie te bestel want dit bevat 'n baie belangrike boodskap wat ek glo elke Christen moet hoor. Ek wil hier egter slegs kortliks vertel van die pad wat die Here met my en Projek KuberWêreld geloop het.
Die afgelope
ongeveer tien jaar het die Here vir my die deur oopgemaak na die Onbereikte Wêreld deur middel van Facebook. Soos ek al dikwels in die verlede gesê het, was en is Facebook steeds die mees koste-effektiewe medium om die Evangelie die wêreld in te stuur. Gedurende die afgelope tien jaar het Projek KuberWêreld etlike miljoene mense bereik in die 10/40-venster lande met die Evangelie -- in so 'n mate dat ek 'n doring in die vlees geword het vir die Moslems van Afghanistan, Pakistan, Somalië en ander
Moslem-, Hindoe en Boedistiese lande.
Hierdie lande het my voordurend verkla by Facebook dat my webblaaie sogenaamde aanstootlike inhoud bevat. (Jy sal verstaan waarom!) Volgens Facebook oortree ek dus hulle Reëls, Regulasies en Standaarde. Aanvanklik het Facebook my webblaaie begin blokkeer. Dan het ek my uitreikblaaie onder nuwe webadresse gepubliseer wat nie deur Facebook se kruipers
opgetel word nie. Toe Facebook agterkom dat hulle my nie kan keer om die Evangelie na die Onbereikte Wêreld te stuur nie, het hulle my advertensierekening gesluit. |
Het die Here 'n
groter doel? |
Hierdie was en is steeds vir my 'n groot beproewing, maar die Here het
hiermee 'n groot doel wat by die dag vir my duideliker word. Wat is hierdie doel? Dit is my oortuiging dat die Here Projek KuberWêreld se bediening wil vermenigvuldig en afwentel na gemeentes en individuele kinders van die Here wat beskikbaar is vir Sy roeping na die Onbereikte Wêreld. Alhoewel Facebook my advertensierekening gesluit het, is jou en al die ander kinders van die Here op Facebook se advertensierekeninge nog oop. Dink net wat kan gebeur as elke Christen op Facebook die Onbereikte
Wêreld teiken met die Evangelie met 'n fraksie van jou tyd en die koste van vyf broodjies en twee vissies. Al die webblaaie, boodskappe en bronne wat jy nodig het is reeds vir jou geskep -- al wat jy hoef te doen is om 'n paar knoppies te druk.
Nou weet ek onmiddellik wat jy dink. "Sê nou Facebook sluit my rekening ook!" My eerste reaksie hierop is -- wonderlik! Groot is jou beloning in die hemel
want jy het jou deel gedoen sover jy kon! Jy het iets reg gedoen! Of is dit belangriker vir jou om jou Facebookblad vir jouself en jou eie doeleindes te gebruik? Jesus het in Sy Woord belowe dat elkeen wat Godvrugtig wil lewe vervolg sal word. (2 Tim 3:12.) Is jy bereid om vervolg te word ter wille van die Evangelie? Daar is egter 'n anderkant van die verhaal wat ek met jou wil deel |
Daar is nog 'n venster
oop! |
Daar is nog 'n 'venster' oop wat kan en moet benut word. Ek het in die
verlede al verskeie kere my artikel, Die 10/41-Venster, hier in die
nuusbrief gedeel. In hierdie artikel skryf ek dat ons 'n beperkte tyd het om die Evangelie na die Onbereikte Wêreld te neem voordat die deure vir altyd toegaan en die Antichris sy verskyning gaan maak. Hierdie deure is reeds besig om teen 'n snelle pas toe te gaan, maar daar is nog 'n skrefie oop! Ons moet hierdie geleentheid benut solank die deur nog oop is -- al is dit slegs 'n skrefie.
Dit is belangrik
om te verstaan dat Facebook nie sommer jou advertensierekening sal sluit, sonder 'n lang geskiedenis van 'oortreding' nie. As jy bang is dat Facebook jou rekening gaan sluit of jou vryhede gaan beperk, kan ek jou belowe daar gaan 'n tyd kom wanneer dit gaan gebeur eenvoudig omdat jy 'n Christen is! So waarom nie nou, terwyl jy nog kan, die geleentheid benut om doelgerig deel te wees van die uitdra van die Evangelie na die Onbereikte Wêreld nie?
Ten slotte wil ek noem dat daar 'n aantal voorsorgmaatreëls is wat ons tref om te verhoed dat Facebook jou advertensierekening summier sal sluit. In die eerste plek maak ons gebruik van 'n 'Swerm Tref-en-Trap' strategie. Ons werk volgens 'n plan wat dit moeilik maak vir Facebook om sensuur toe te pas en daarom is dit belangrik om deel te vorm van die Projek KuberWêreld span. Die belangrikste vraag is egter: Is jy en jou
Facebookblad beskikbaar vir die Here? |
GESOEK Persone wat bereid is om hulle Facebookblaaie beskikbaar te stel om die Onbereikte- en Mins-geëvangeliseerde Wêreld met die Evangelie
te help bereik |
Ons is tans in die proses om Christene te mobiliseer om deel te vorm van
'n span wat die Evangelie deur middel van Facebook na die hele wêreld sal stuur. Sal
jy een van hulle wees? |
Hier is die dinge wat jy moet weet - Jy moet 'n Facebookblad hê of bereid wees om
een oop te maak.
- Jy moet bereid wees
om ongeveer R160 ($10) per maand op Facebook advertensies te bestee om die Evangelieboodskap na die Onbereikte Wêreld te stuur.
- Jy moet 'n bankkaart
koppel aan jou Facebookrekening indien jy nie reeds het nie, sodat Facebook jou kan debiteer vir advertensies geplaas.
- Jy moet verkieslik toegang tot 'n laptop of rekenaar hê, alhoewel alles
ook op 'n slimfoon gedoen kan word.
- Facebook sal
moontlik vra dat jy jouself indentifiseer deur 'n kopié van jou ID te verskaf. (Iets wat jy vir jou bank en alle ander transaksies moet doen. Al wat jy moet weier is om 'n merk, chip of tattoe op jou liggaam te ontvang.)
- Jy moet gewillig
wees om te leer hoe die proses werk. Dit is eenvoudig en 'n kort leerproses. Alhoewel dit aanvanklik na 'n uitdaging lyk (veral vir ons wat in die tegnologies-gestremde kategorie val - ha ha), raak 'n mens die prosedure gou gewoond.
- Alhoewel jy aanvanklik 'n paar uur sal moet investeer om op dreef te kom,
sal dit daarna nie meer as 'n uur of twee per maand van jou tyd vra nie.
- Jy sal vervolging en teenstand op een of ander wyse ondervind omdat jy betrokke is in 'n geestelike oorlog. Maar in Jesus Christus is jy aan die oorwinningskant. In Op 12:11 lees ons: "En hulle het hom oorwin deur die bloed van die Lam en
deur die woord van hulle getuienis, en hulle het tot die dood toe hulle lewe nie liefgehad nie." As dit jou getuienis is, "join the club". Indien nie, lees eers, 'Die Passie Van Die
Evangelie'.
- Die vervulling wat jy kry wanneer jy op Facebook se statistieke sien hoe mense reageer op jou uitreikveldtog, is onbeskryflik. Vir die eerste keer in jou lewe kan jy 'sien' hoe jy deur die Here as Sy
instrument gebruik word om die hele wêreld met die
Evangelie te help bereik!
Dink net, wanneer jou gemeente betrokke raak watter inspirasie en nuwe bestaansdoel dit aan julle sal verskaf wanneer julle sien hoeveel
duisende mense julle gemeente elke maand in die Onbereikte Wêreld met die Evangelie bereik! Om deel te word van die Projek KuberWêreld Netwerk span, registreer asseblief op hierdie bladsy. Let wel, daar rus geen verpligting op jou wanneer jy registreer nie. Die voordeel is egter dat ons nou met mekaar kan kommunikeer. Vir meer inligting
of hulp, kontak my by admin@sepprograms.com. |
Spesiale
gebedsversoeke Sal jy asseblief saam bid vir die volgende: - Dat die Here 'n persoon of bediening sal roep om saam met my Projek KuberWêreld vorentoe te neem en wat die leisels by my kan oorneem wanneer die Here se tyd daar is.
- Vir addisionele finansiële ondersteuning. Ons webblad diensverskaffer is in die proses om veranderinge aan hulle
kostestruktuur te bring wat tot gevolg gaan hê dat ons diensfooi gaan verdubbel. Alternatiewelik sal ons 'n aantal webblaaie moet sluit, wat enorme probleme met gebroke skakels, sowel as verlore data gaan veroorsaak.
|
Hierdie bediening is afhanklik van die vrywillige finansiële ondersteuning van kinders van die Here wat ons visie deel. Baie dankie aan elkeen wat op een of ander manier vir Projek KuberWêreld help om die Evangelie uit te dra na al die nasies. Baie dankie aan elke medewerker wat betrokke is in gebedsondersteuning, finansiële ondersteuning, digitale uitreiking of mobilisering. Mag die Here u ryklik seën! Indien u of u gemeente ‘n bydrae wil maak, kan u die skakel na ons bankbesonderhede hieronder
vind. |
Opregte Jesus-liefde Elmer Grobler |
|
|