Waarom 'n
'Venster'?
'n Venster skep die beeld van visie. As daar nie 'n venster is nie, is jou visie beperk --
dan sien jy net die dinge rondom jou raak. Sonder 'n venster is jou wêreldjie klein. Hoe hartseer is dit nie dat 'n groot deel van die Kerk in 'n wêreldjie van hul eie leef - sonder 'n venster! 'n Groot persentasie van die Kerk het geen visie vir die Onbereikte Wêreld nie. Hulle wêreld het geen venster nie! Het jou wêreld 'n venster? Miskien is jou gordyne toegetrek! Die Here vra vandag vir jou om die gordyne voor die venster op die Onbereikte Wêreld in jou wêreld oop te trek!
Maar die Venster van die 10-41-Venster het 'n addisionele betekenis. In hierdie geval
verwys dit na 'n tydsraamwerk. Dit is 'n visie wat binne die raamwerk van 'n beperkte tydperk vervul moet word. Ek het nie woorde om die dringendheid van hierdie visie te beklemtoon nie! Ons het min, min tyd oor -- God se horlosie staan op een minuut voor twaalf! Dit is van absolute belang dat ons die dringende betekenis van hierdie Venster sal verstaan.
Die Here het die afgelope aantal jare, en is toenemend besig om aan Sy Kerk 'n unieke
instrument te gee om die HELE wêreld met die Evangelie te bereik -- die digitale tegnologie. Vriende, luister mooi, die digitale tegnologiese revolusie van ons tyd se primêre doel is om die Kerk toe te rus om die HELE wêreld met die Evangelie te bereik ter voorbereiding van Jesus se wederkoms! Vir die EERSTE keer in die geskiedenis van die wêreld is dit NOU moontlik om die HELE wêreld met die Evangelie te bereik met behulp van digitale tegnologie. Binne die volgende tien jaar sal daar 'n
vertalingsprojek van die Bybel of in hoorbare of visuele formaat in plek wees wat deur alle mense in die wêreld verstaan sal word -- met behulp van digitale tegnologie. Die Bybel sal die EERSTE en enigste boek in die wêreld wees wat deur elke mens in die wêreld verstaanbaar sal wees!
Die punt wat ek wil maak is -- ons het min, min tyd! Daar is 'n tydsvenster betrokke!
Hierdie tydsperiode wat aan die Kerk gegee word om hierdie doel te bereik sal tot 'n einde kom wanneer die Antichris sy verskyning gaan maak en die deur vir die Evangelie oor die digitale media gaan toeklap! Hierdie proses is alreeds besig om momentum te kry. In baie lande word die internet reeds onderwerp aan streng beheer en in sommige lande is wetgewing in die pyplyn wat die verkondiging van die Evangelie oor die digitale media as haatspraak wil
brandmerk.
Ek doen 'n beroep op jou -- help ons om die Evangelie van
Jesus Christus die wêreld in te dra via die digitale en sosiale media -- terwyl ons nog tyd het!