Die mees populêre lied ooit
Die lied, Amazing Grace, is waarskynlik die lied wat die meeste gesing en gehoor is, en steeds gesing en gehoor word in die geskiedenis van die wêreld. Dit is in 1772 geskryf deur John Newton
en dit word geraam dat ongeveer 10 miljoen aanbiedinge van Amazing Grace jaarliks plaasvind. Die lied is in meer as 50 tale van die wêreld vertaal en word gesing deur kunstenaars, gehore, kerke en gewone mense. ‘n Menigte films, videos, opvoerings en opnames is reeds van die lied gemaak. Ek weet nie of daar nog ‘n lied is wat so ‘n geweldige impak op die mensdom gehad het as Amazing Grace nie. Amazing Grace getuig van ‘n passie — ‘n lewensveranderende
passie!
Genade Onbeskryflik Groot
Daar is egter ‘n Bybelvers wat ‘n groter impak gehad het en steeds het — dit is Joh 3:16. Dit is ook geskryf deur ‘n John — in Afrikaans, Johannes. Interessant genoeg, Amazing Grace getuig van Joh 3:16 en is die grondslag van die lied! Joh 3:16 is die fondasie van 2,38 biljoen mense wat
hulleself Christene noem en is reeds vertaal in minstens 1,600 tale van die wêreld.
Die tragiek is egter dat daar nog miljoene mense in
die wêreld is wat nog nooit Joh 3:16 of Amazing Grace gehoor het nie! Maar weet jy wat is die tragiese van alles? Die grootste tragiek is dat vir ’n baie groot persentasie van hierdie 2,38 biljoen mense wat hulleself Christene noem, dit gladnie saak maak nie. Waarom nie? Omdat hulle nie ’n passie het vir die Evangelie nie! Massas belydende Christene sing en praat van die liefde van God sonder ‘n ware passie vir die Evangelie in hulle hart.
Herleef jou passie vir die Evangelie
Hoe is dit moontlik dat iemand hom– of haarself ‘n Christen kan noem sonder ’n passie vir die Evangelie? ‘n Belangriker vraag is egter, hoe kan ek my passie vir die Evangelie laat herleef? As hierdie twee vrae ‘n snaar in jou hart laat roer, is hierdie boodskap vir jou.
In hierdie boekie wil ek die antwoord op hierdie en ander vrae gee, na aanleiding van die pad wat die Here met my gestap het. Ek beskryf hierdie pad in
Hoofstuk 6. Die boekie beslaan slegs 76 bladsye, maar miskien is hierdie een van die belangrikste boodskappe wat jy ooit sal lees. Dit is my gebed dat jy ‘n nuwe passie vir die Evangelie sal ervaar nadat jy hierdie boekie gelees het.
So kan jy 'n medewerker wees om die Evangelie die wêreld te help instuur
1. Deur mobilisering. Die hoofdoelwit van 'Die Passie Van Die Evangelie' is om 'n visie en passie vir die bereiking van die wêreld met die Evangelie in die harte van kinders van die Here aan die brand te steek. Deur 'Die Passie Van Die Evangelie' te help versprei, mobiliseer jy die Kerk van Jesus Christus om die Groot Opdrag te help voltooi.
2. Deur finansiële ondersteuning. Deur 'Die Passie Van Die Evangelie' te help versprei, ondersteun jy Projek KuberWêreld finansieel om die taak waartoe die Here ons geroep het meer doeltreffend uit te voer. Ek wil hierdie boekie nie deur die normale bemarkingskanale verkoop nie. Ek wil kinders van die Here mobiliseer om die Passie-boodskap te help uitdra as deel van ons getuienis en roeping. My versoek aan
jou is dus om, behalwe vir jouself, een of twee addisionele eksemplare (of soveel as wat die Here op jou hart lê en jy kan bekostig) te bestel om gratis te versprei.
Bestel jou boekie(s) by Groep 7 Drukkers en Uitgewers by hierdie skakel. Die prys van die boekie is R110 en koerierkoste na enige plek in Suid-Afrika is R110 vir een tot tien eksemplare. Met ander woorde, as jy tien boekies bestel is die afleweringskoste slegs R11 per boekie. (As jy in die Pretoria-omgewing woon, kan jy jou boekie(s) direk by admin@sepprograms.com bestel en kan ons reël vir aflewering om die koerierkoste te
vermy.)