Voltooiïng van die Groot Opdrag is meer as 'n taak -- dit is 'n oorlog!
Voltooiïng van Jesus Christus se Groot Opdrag is 'n geestelike oorlog! Dit is belangrik om te verstaan dat die Satan die voltooiïng van Jesus Christus se Groot Opdrag met alle mag teenstaan! Vir hom is dit 'n oorlewingstryd. As die Kerk van Jesus dit regkry om elke volk, stam en taal met die Evangelie te bereik, is sy doppie geklink -- want dan gaan Jesus Christus terugkom as Koning van die konings. Ons moet dus nie verbaas wees dat hy hierdie doelwit met al sy
mag teenstaan nie. Dit is dus belangrik om te weet: waar woed hierdie oorlog?
1. Op die sendingvelde van die wêreld
Elke sendingveld -- en in die besonder elke onbereikte sendingveld -- is 'n oorlogsone. Vra maar vir elke sendeling. Projek KuberWêreld het dit oor die
jare ondervind. Die teenstand wat ons vanuit die Moslem, Hindoe en Boedistiese wêrelde, sowel as Facebook ondervind het, is getuienis hiervan.
2. Binne sendingorganisasies en -bedieninge
Daar is egter ook 'n oorlog wat woed binne sendingbedieninge en -organisasies. Twee taktieke wat die Satan met groot sukses in sendingaksies gebruik om hulle bedieninge onvrugbaar te maak is, verdeeldheid in die binnekring en 'n gebrek aan gebeds- en finansiële ondersteuning.
Ek weet van minstens drie sendingbedieninge waar die Satan verwoesting gesaai het deur huweliksverbrokkeling en egskeiding. Dit is buiten die wapen van verdeeldheid tussen medewerkers wat hy met oorgawe gebruik om die werk van die Here lam te lê.
Die Satan se geliefkoosde taktiek is gebrek aan ondersteuning en fondse. As hy dit kan rekry om 'n sendingbediening se fondse af te sny, het hy sy doel bereik. Gewonde geroepenes lê verstrooid op die sendingslagvelde as gevolg van gebrek aan gebeds- en finansiële ondersteuning.
3. Binne die Kerk
Die strategie wat die Satan hier by uitnemendheid gebruik is geestelike kortsigtigheid, selfbelang en 'n gebrek aan sending- en in die besonder wêreldsendingvisie. 'n Baie groot deel van die Christelike Kerk is primêr besig met hulleself en hulle eie gemeentlike behoeftes. Daar bestaan 'n tragiese gebrek aan visie, belangstelling, dringendheid en wil in die Kerk van Jesus Christus om die Groot Opdrag te VOLTOOI!
Hierdie is die grootste probleem. As ons hierdie probleem kan oplos, sal die oorlog op die sendingveld en binne sendingorganisasies en bedieninge gewen word -- want dan sal die nodige gebeds- en finansiële ondersteuning in plek wees.
Om hierdie oorlog te wen moet elke kind van die Here en elke gemeente daadwerklik betrokke wees by gebeds- en finansiële ondersteuning aan hulle wat voltyds geroep is na die sendingveld -- en by name, na die onbereikte
wêreld!